21 Apr
21Apr

Dink ’n bietjie oor die vraag … Ek is mooi omdat?

Wat was jou eerste gedagte? 

  • Was dit oor hoe jy lyk Was dit dalk: 
  • die mense hou darem van my Of dalk was dit: 
  • ek is nie mooi nie Jy kon aan niks dink nie – jy het ’n ‘blank’ geslaan 

In Prediker staan daar : reeds voor jou geboorte was jy al in God se gedagte, Hy het jou met ’n spesifieke doel geskep. 

In Genesis sê God dat Hy jou na Sy beeld geskape het. Dit begin in ’n individuele enkelheid, ’n toestand waarin jy jou selfwaarde en jou uniekheid begin besef.  Meeste van ons beskik oor een of ander eienskap waarvan ons nie hou nie; hetsy dit fisies, emosioneel, verstandelik of geestelik van aard is. 

Dit beteken egter nie dat jy vir ewig met die negatiewe kwaliteite moet saamleef nie. In plaas daarvan om heeltyd aan dit waarvan jy nie hou nie te dink of daaroor te praat, maak ’n lysie van jou vyf slegste / negatiewe en beste / positiewe eienskappe. 

Dink nou aan maniere hoe jy jou positiewe eienskappe kan uitbou en hoe jy jou negatiewe eienskappe kan verbeter. Aanvaar die dinge wat jy nie kan verander nie. Die geheim om die lewe ten volle te geniet lê daarin om jouself lief te hê net soos jy is – met al jou goeie, slegte en lelike eienskappe. Selfs jou negatiewe eienskappe maak jou anders as die mense om jou. 

Uniekheid is vir God van groot belang, dink net daaraan hoe Hy vir elkeen van ons ons eie unieke stel vingerafdrukke geskep het. Is dit nie wonderlik nie? 

Leer om gelukkig te wees met wie jy is en die eienskappe waarmee God jou geskape het. Selfvertroue trek mense aan. 

Dink ’n bietjie na. Hoeveel keer het jy al mense teëgekom wat nie beeldskoon is nie, maar met soveel selfvertroue oorkom dat hulle vir ander pragtig en baie aangenaam lyk. Hulle sprankel. Wat is hul geheim en hoe kan ons ook so wees? Dit wie jy inherent is en jou uniekheid moet in die waarheid berus; dat God jou reeds as Syne uitverkies het.   Net soos met ander verhoudings word intimiteit met God ook met verloop van tyd opgebou.  Al hoe jy iemand werklik kan leer ken is deur tyd saam deur te bring. 

Intimiteit kom slegs tot stand deur oop en eerlike kommunikasie. Hoe meer jy met God kommunikeer deur sy Woord (die Bybel) en hoe meer tyd jy saam met God deurbring, hoe dieper word jul verhouding.  God sal in jou hart werk, daagliks saam met jou stap en jou na die waarheid lei. 

Jou verhouding met jou hemelse Vader vorm die grondslag van ’n suksesvolle verhouding met Hom, ander mense en jou huwelik. Die vrou in Spreuke 31 kon nie alles vermag het wat sy het sonder om eerstens ’n persoonlike verhouding met God te hê nie. As vrou moet jy tyd met God spandeer en aan jul verhouding bou vir geestelike groei. Vertrou in God en vervul Sy plan met jou lewe. Spreuke 31:10 vra - wie kan ’n waardevolle vrou vind? Want haar waarde is ver bo korale. Die vers sê dus dat ’n ware, godvresende vrou so skaars en waardevol is dat haar waarde bo enige aardse skat gestel word. 

As vrou beskik jy oor ongelooflike waarde. Nie alleenlik as dogter van die Allerhoogste God nie, maar as die persoon wat ’n huishouding bestuur, kinders in die lewe bring, kinders opvoed, ’n eggenoot ondersteun en onderskraag, luister met beide jou fisiese as jou godsdienstige oor en ook na jou hart. Jy bestuur jou tyd wyslik, ook in baie gevalle wanneer jy ’n voltydse beroep beoefen. Jy beskik oor die gawe om ’n berader te wees, ’n onderwyser, vriend, bediener, bestuurder en om ander se behoeftes raak te sien en hulle by te staan om hul drome te help verwesenlik. 

Daarby is jy ook medemenslik, mededeelsaam, jy is sterk en ’n bron van vreugde. Jou innerlike salwing maak jou gewillig, bevoeg, geskik, magtig, sterk, dapper, doeltreffend, ryk, en ontvanklik vir die goeie. As vrou word jy so waardevol in God se plan geag dat die heelal nie sonder jou kan voortbestaan nie. Wanneer die Woord van God in jou hart is, sal jy jou waarde besef en bewus wees van hoe goed ’n man en ander jou behoort te behandel, en jy sal met niks minder tevrede wees nie. So sal jy respek vir jouself kry. 

Lewe jou lewe as ’n vrou met waarde. So as ek die vraag weer aan jou stel, wat sal jou antwoord nou wees? Herhaal die vraag na ’n maand en kyk wat jy dan antwoord. Groei jy in die regte rigting?

Met Liefde

Liesel

Comments
* The email will not be published on the website.