18 Apr
18Apr

Een van die eise van die geestelike lewe is om geloof te vind en dit te handhaaf. Dit moet jou inspireer tot gehoorsaamheid aan God. Die sentrale figuur in die Christelike geloof is Jesus Christus. Dit is egter moontlik om 'n Christen te wees en Christus nogtans te verloen en Sy eise aan jou te verontagsaam.

Situasies kan ons geloof so maklik oorskadu en dat ons in ons eie krag, gedagtes, besluite en wil toegee in plaas dat Hy ons leidsman tot elke situasie en lewe is.

As ons net na die geskiedenis gaan kyk in Konings dan sien ons hoe geslagte konings weg gedraai het van God en Sy voorskrifte en verval het seker in hoogmoed, selfsug, eiewysheid, geldgierigheid, ongehoorsaamheid wat gely het na die land en of 'n volk se ondergang want die konings het hulle gelei na afgode en sonde. Is dit nie maar wat nog steeds gebeur in die regerings van vandag nie.

Gelukkig ten spyte van die nasies se ongeloof, ongehoorsaamheid en selfs ballingskap is God se plan met hulle steeds aan die werk.

Laat ons altyd onthou dat God steeds aan die werk is om 'n sonde verskeurde wereld tot besinning en redding te bring, en dat ons elkeen 'n deel van daardie plan is.

Wat die Here van my en jou verwag is om die toekoms onvoorwaardelik in Sy hande te laat. Bemin Hom, vertrou Hom, dien Hom en wag geduldig op die ontvouing van Sy Godelike plan op sy goeie tyd. Wanneer die Here ons seen is dit 'n ewige seen.

Johannes 1:6: "Daar was 'n man, gestuur deur God (sit jou naam in) Hy het gekom met die doel om 'n getuinis te lewer; om van die lig te getuig sodat alle mense op grond van sy getuienis sou glo. Hy was nie self die lig nie, maar het net gekom om oor die lig te getuig." vers 12: "Aan almal wat Hom egter aanvaar het, die wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.".

Ons wil God dikwels op ons eie manier dien, en God het soms heel ander planne met ons lewe. As ons bly glo en vertrou sal ons sien hoe God sy planne in ons lewe ten uitvoer bring.

1 Kronieke 22:16: "Begin nou met die werk, en mag die Here met jou wees!"

Om vir die Here te werk vereis stiptelike opleiding en voorbereiding. Die sukses van ons sending hang daarvan af. Moenie die voorbereiding afskeep wanneer jy vir die Here wil werk nie.

Dawid is die voorreg ontse om die tempel in Jerusalem te bou. God het iemand anders - Salamo, gekies. Dawid het egter met die voorbereidings vir daardie monumentale projek gedoen. Al die werk is deeglik beplan en gekoordineer. Dawid maak seker sy seun Salamo is voorbereid vir die taak. Hy stel Salamo in kennis van God se besluit dat Salamo die tempel moet bou en dat hy 'nman van vrede moet wees, en dat Dawid reeds al die voorbereiding getref het vir die bouwerk. Dan stuur hy Salamo om die taak te verrig met die wens dat God met hom sal wees. Dawid berei sy nageslagte voor en seen hulle toekoms. Wat 'n voorbeeld is dit nie vir ons as ouers vandag om ons kinders voor te berei vir wat God vir hulle beplan nie.

"Eerbied vir die Here (en Sy planne) is die begin van wysheid" Psalm 111:10. 

Dawid se lewe het geindig soos dit begin het, in nederige vertroue op God. Ten spyte van sy menigvuldige prestasies het dit nooit na sy kop toe gegaan nie. Sy laaste woorde aan Salamo en sy volk het sy heelhartige toewyding aan God weerspieel net soos toe hy 'n jong skaapwagter in die weivelde van Judea was. Met die droom van sy hart om vir God 'n tempel te bou- wat hy aan sy seun Salamo toevertrou het, het hy op 'n rype ouderdom gesterf. 'n Mens se lewe wys waar jou liefde le en met Dawid was daar geen twyfel nie. As jy vandag sou sterf hoe sou die volgende geslag jou onthou?

Dawid en Salamo se hartbegeertes was nie persoonlike rykdom en eer, of vernietiging van sy vyande of 'n lang lewe nie. Hy het God gevra vir wysheid en kennis om sy volk behoorlik te regeer.

Wat is jou hartsbegeerte waar jy nou is? God kyk na ons hart. As dit in lyn is met God se wil, sal hy jou die wysheid en kennis gee wat jy vra. Hy sal ook vir jou rykdom, besittings en eer gee, sodat jy kan doen wat God van jou vra en omdat jy in Sy wil lewe. Hy is jou voorsiener, Hy maak die deure oop en toe wat nodig is. Hy gaan jou vooruit en maak die pad gelyk.

Romeine 8:28: "En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir die lewe. Want God het hulle reeds vooruit geken, en Hy het hulle aangewys om soos sy Seun te word."

Gebed

Vader God mag U Naam deur ons gebede en dade geheilig word. Here ons God U praat deur die Heilige Gees met ons in gebed oor die kardinale dinge van die lewe, oor geloof, hoop en liefde, oor genade, vergifnis en kindskap. Ons kan ook na U toe kom en luister in ons bekommernis, laste en droefheid, in ons swakheid, sonde en berou. 

Help ons om nie net met U te praat nie maar ook nougeset te luister en te hoor wat U deur U Gees aan ons wil se. Dankie vir die Heilige Gees wat ons lei tot dieper dimensies van gebed. Hoor ons swak gebede en heilig dit deur die bloed van die Lam. Amen.

Mag die volgende oor jou soos oor Dawid uigespreek word - "Mag vrede en voorspoed by jou wees, en sukses vir almal wat jou help, want jou God is die een wat jou help."

Met liefde

Liesel


PS: Jesaja 43:1-3 :"Moenie bang wees nie, want Ek het jou verlos. Ek het jou by jou naam geroep. Jy is myne. Wanneer jy deur diep water gaan, sal Ek by jou wees. Wanneer jy deur riviere gaan, sal hulle jou nie wegspoel nie. Wanneer jy deur vuur stap, sal jy nie verbrand nie. Die vlamme sal jou nie verteer nie. Want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder."

Comments
* The email will not be published on the website.